OUDTSHOORN is een van die Wes-Kaapse munisipaliteite wat finansiële steun van die regering gaan ontvang vir herstelwerk na vloedskade in die provinsie in 2021.
Die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, het verlede week bekend gemaak dat Wes-Kaapse munisipaliteite altesame R289 964 000 sal ontvang vir ’n verskeidenheid projekte.
Die Tuinroete Distriksmunisipaliteit, waarbinne Oudtshoorn geleë is, ontvang die grootste deel van die fondse, naamlik R264 161 000.
Dit sluit die herstel van stormwater en paaie in veral informele woongebiede in Oudtshoorn in en herstelwerk aan ’n rouwaterpyplyn tussen George en die dorp se watersuiweringsaanleg.
Die Overberg Distriksmunisipaliteit sal R15 493 000 vir die herstel van paaie en pype ontvang, en die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit R10 310 000 vir die herstel van ’n brug en drie pompstasies,
Dié projekte sal volgens Bredell deur die provinsiale rampbestuursentrum gekoördineer word, met gedetailleerde besigheidsplanne wat ontwikkel is vir die konstruksie- en herstelwerk waarvoor die geld bewillig is.
“Dié projekte is daarop gefokus om rampbestand te wees en toekomstige klimaatveranderingsuitdagings die hoof te bied,” sê Bredell.
Volgens hom sal die departement van plaaslike regering tegniese steun bied aan die munisipaliteite om te verseker die geld word ten beste aangewend. (Deur Liesel le Roux)
Paaie en stormwater in Oudtshoorn se informele woonbuurte sal baat
