Spensplaas se voedseltuin inspireer en voed gemeenskap

’n Oggend op Spensplaas buite De Rust met vrywilligers besig in die gemeenskaplike voedseltuin waar jy in ruil vir ’ n oggend se werk groente kan pluk volgens jou behoefte. In die middel in blou staan Spensplaas se hooftuinier en enigste permanente werknemer, Geraldine Jacobs, met een van die inisieerders van die projek, Kathryn Eybers, regs. Foto’s: Schalk le Roux

OP Vryheidsdag volgende Dinsdag sal dit presies ’n jaar wees sedert die eerste aanplantings op 27 April 2020 in die Spensplaas-voedseltuin buite De Rust in die Klein Karoo.

Dié voedseltuin op een hektaar bewerkbare landbougrond met bergwater wat Celia le Roux van Domein Doornkraal daarvoor beskikbaar ge­stel het, voed deesdae inwo­ners van die gebied wat in ruil vir gratis toegang tot die tuin se groente, as vrywilligers in die tuin kom werk.

Hoe het Spensplaas ontstaan? Volgens een van die stigters van die projek, Kathryn Eybers, het ’n gesprek verlede jaar op WhatsApp tussen De Rusters ontstaan oor skenkings vir kospakkies vir inwoners wat tydens die inperking verlede jaar hul werk verloor en nood gehad het. “Toe sê Celia: Hoekom koop ons kos as ons boere is en kos kan produseer? Laat ons iets doen wat meer volhoubaar is en nie ’n uitdeel-kultuur vestig nie, maar mense die geleentheid bied om te kom werk in ruil vir kos. “Die voorstel is die Vrydag ge­maak en op die Maandag het ons begin plant!”

Eybers sê dit is eintlik ongelooflik hoe baie kennis en kundigheid daar van die begin was by mense wat betrokke geraak het by die projek, in so ’n mate dat dit nie nodig was om vergaderings te hou nie, maar dat die werk net kon begin.

Eybers self beskik oor ’n BSc Landbougraad en ’n verdere kwalifikasie in permakultuur en het groot kundigheid oor permakultuur- en organiese boerderymetodes.

Vrywilligers kan soggens by ’n oplaaipunt in De Rust wag waar Celia hulle om 07:00 oplaai. Hulle werk tot 09:00 waarna hulle breek vir ontbyt, en werk daarna tot 10:30 wan­neer hulle ’n voedsame ete – ge­woonlik sop met groente uit die tuin – kry. Hierna het hulle die ge­leent­heid het om volgens hul behoefte groente vir hul families in die tuin te pluk. Elk­een kan neem wat hulle wil en soos hul beheoeftes is.

Die projek is selfonderhoudend en befondsing daarvoor kom van groen­te wat by die maandelikse De Rust-mark verkoop word, asook van in­- wo­ners wat maandeliks R400 vir lid­maat­­­skap betaal as ’n Community Supported Agriculture (CSA)-lid. Dié lede kry in ruil ook toegang tot die tuin. Fondse word gebruik vir byvoorbeeld die herstel van besproeiing, aankoop van saad en die salaris van die hooftuinier, die enigste permanente werknemer van die projek.

En wanneer die wind opkom en geure van kruie en blomme aanwaai, vertel van die vrywiligers hoe hulle “nuwe” groentesoorte in dié tuin leer ken het – en nou in die plek van net wortels en beet ook eiervrug, koljander en basiliekruid huis toe vat. (Deur Liesel le Roux)