Klein Karoo Agri presteer met verkope

André Vivier (regs), takbestuurder van Klein Karoo Agri (KKA), met die trofee wat Virbac aan Klein Karoo Agri toegeken het vir Prodose-verkope. By hom is Tertius Janse van Rensburg, veemedisynebemarker by KKA, met die sertifikaat wat aan hulle toegeken is.

KLEIN KAROO AGRI op Oudts­hoorn het ’n besonderse erkenning van Virbac, ’n verskaffer van diere-gesondheidsprodukte, ontvang vir sy prestasie met die verkoop van die reeks Prodose-produkte.

Virbac het ’n trofee en sertifikaat aan Klein Karoo Agri toegeken as een van die toptien-verkopers van Prodose-produkte oor die afgelope jaar. Wat dié prestasie uitsonderlik maak, is dat die Oudtshoorn-tak een is van slegs tien handelstakke wat landwyd aangewys is uit sowat vyfhonderd handelstakke van landboubesighede wat in aanmerking gekom het vir die toekennings.

Die Prodosereeks is vanjaar 25 jaar oud en die toekennings is gedoen as deel van Virbac se vieringe van die produkreeks se sukses oor die afgelope kwarteeu. Prodose word aan skape en bokke toegedien vir parasiete en wurms.

André Vivier, takbestuurder van Klein Karoo Agri op Oudtshoorn, skryf hul goeie verkope toe aan die landbouprodusente se goeie en lojale ondersteuning en het hulle daarvoor bedank. Hy sê die Prodose-produkreeks se verkope het die afgelope jaar goeie groei getoon.

“Dit dui aan dat die kleinveegetalle in die Klein Karoo toegeneem het. Dit is vir my verblydend dat daar groei was in hierdie moeilike tye,” het hy gesê.