Oudtled ontevrede oor minister se besoek aan Oudtshoorn

Jonathan Vaas (links) en Sam Misemengo van Oudtled Taskforce (OT) in gesprek met Herman van der Westhuizen (regs), kantoohoof van die departement van kultuursake en sport, tydens ’n besoek van minister Anroux Marais aan Oudtshoorn. Foto: Stefan Skapie Goosen

’N GROEP sakemanne en belanghebbendes wat betrokke is by die Oudtled Taskforce (OT) op die dorp is erg ontevrede oor ’n onlangse besoek van die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, aan Oudtshoorn. OT is ’n nie-wins­gewende groep wat hulle daarvoor beywer om bruin en swart besigheidseienaars en die gemeenskap op te hef en te ondersteun.

Volgens een van die lede, Sam Misemengo, was die OT hoogs ontsteld oor Marais se besoek op 19 Maart. Hulle het die dag voor die CP Nel Museum vergader met die doel om vrae te rig aan Marais wat ’n vergadering daar bygewoon het.

“Sy was net hier om ‘wit besighede’ se belange te kom verdedig, soos dié van Oudtshoorn Toe­risme, Agri Klein Karoo en die Oudtshoorn Be­sigheids­kamer wat die afgelope 12 tot 13 jaar museumgeboue gebruik het. Maar wat van ‘swart en bruin’ besighede en toerisme? Sy ag nie ons belange so belangrik nie. Hierdie skeiding mag nie meer gebeur nie,” het Misemengo gesê.

OT se optrede het gevolg op ’n geskil oor bogenoemde organisasies se huurkontrakte in die info­sentrum. Agri Klein Karoo en die Oudtshoorn Besigheids­kamer het intussen die infosentrum verlaat en na ’n ander perseel getrek.

Misemengo en ander OT-lede wou weet hoekom dié oop persele nie nou “swart en bruin” besighede en toerisme kan huisves nie.

Hoewel Marais nie beskikbaar was om na haar vergadering met OT te gesels nie, is die OT-lede kortliks te woord gestaan deur Herman van der Westhuizen, kantoorhoof van die departement van kultuursake en sport. Hy het gevra dat OT navrae skriftelik aan die departement stuur.

Stacy McLean, woordvoerder van die departement, sê dit is jammer dat OT die aanname maak dat die minister na Oudtshoorn gereis het om sogenaamde “wit sakebelange” te verdedig.

“In werklikheid was die doel van die besoek dat die minister met die CP Nel Museum se trustee-raad en amptenare vergader oor ’n kontraktuele dispuut rakende die verhuring van die betrokke eiendom sowel as die bedryfsaspekte van die museum,” het McLean gesê.

Volgens McLean het Marais haar na die vergadering daartoe verbind om die munisipaliteit, haar departement en die amptenare van die mu­seumdienste te betrek om die mees vriendskaplike oplossing is vir die saak te vind. Die vergadering sal einde Mei 2021 plaasvind. (Deur Stefan Skapie Goosen)