DIE bestuurder van die BMW waarin die 18-jarige Marilize Nortier op 22 September 2019 gesterf het, is gedagvaar om op 26 November in die hof op Oudtshoorn te verskyn
Die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) het in September beslis dat die bestuurder vir strafbare manslag, alternatiewelik roekelose of nalatige bestuur, en die versuim om hulp te verleen ná ’n botsing vervolg moet word.
Die motor waarin Marilize ’n passasier was, het tussen Oudtshoorn en die Kango Grotte van die pad geloop en in ’n watervoor beland.
Die bestuurder het die toneel verlaat en glo eers ure later weer teruggekeer. Hy het op aanbeveling van sy prokureur nie ’n verklaring oor die voorval afgelê nie.
Marilize was steeds in die voertuig vasgegordel toe dit ure nadat die ongeluk plaasgevind het, uit die water gesleep is. ’n Nadoodse ondersoek het bevind dat sy verdrink het. (Deur Liesel le Roux)