Rower slaan toe by kerk

Deur Angelique Erasmus
WEES versigtig en hou jou oë oop, oral waar jy gaan.

Dit is die boodskap nadat ’n tiener Sondag by die AGS Klein Karoo-gemeente in Buitekantstraat op Oudtshoorn van haar selfoon beroof is.

Die tiener en haar jonger suster het volgens die kerk se leraar, Francois Mattheüs, tydens die diens kleedkamer toe gegaan, en is met die uit­komslag deur ’n onbekende man ingewag. Hy het gesê hy het ’n mes en daarop aangedring dat die meisie haar selfoon aan haar oorhandig.

Sy het dit aan hom gegee, en die man het weggehardloop.

Die kerk se badkamers is in ’n gebou langs die kerk geleë.

Die polisie is ontbied en was na verneem word vinnig op die toneel.

Volgens Mattheüs vermoed hulle dat die man tydens die diens naby die kerk rondgeloop het en die tiener gesien het toe sy kleedkamer toe gegaan het.

“Hy het dus die kans gebruik om haar van haar selfoon te beroof. Ons is net baie bly dat sy niks oorgekom het nie en is besig met ’n plan om te verseker dat so iets nie weer in die toekoms gebeur nie.”

Hy sê die kerk beoog om so spoedig moontlik ’n heining om die gebou op te rig; iets wat in elk geval vir ’n latere stadium beplan was.

“Tot dan gaan ons streng veiligheidsreëls daarstel,” het hy gesê.

Hy sê die twee meisies is ongedeerd, en die gesin is deur die gemeente ondersteun en bedien na afloop van die byeenkoms.

Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudts­hoorn Polisie, sê die polisie ondersoek ’n saak van roof.

Wesbank loop die laaste tyd onder ’n vlaag misdaad deur.

Die Hoorn het verlede week berig oor verskeie inbrake wat die afgelope weke in die gebied plaasgevind het.