DIE saak teen die vier verdagtes wat van moord op Justin Booysen in 2019 in Rosebank op Oudtshoorn aangekla word, is Donderdag in die streekhof vir vier dae se verdere verhoor van 21 tot 24 November uitgestel.
Die saak is op 1 Augustus voorlopig tot 24 Augustus uitgestel omdat die landdros van Kaapstad wat die saak aanhoor siek was en nie na Oudtshoorn kon kom nie. Simphiwe Ndoni (32), Ephrahim “Speekbout” Malgas (42), Breyton Bruiners (24) en Lorenzo Malgas (25) pleit onskuldig op al die klagtes teen hulle.
Die hof het vroeër ’n staatsgetuie, Kelvin Botha, as ’n vyandige getuie verklaar nadat hy getuig het hy nie kan lees of skryf nie.
Volgens hom is hy deur die ondersoekbeampte, A/o Daromi Burger, gevra om onderaan twee blanko velle papier die letters A en B, die voorletters van sy naam en van, aan te bring.
Sy het hom glo ook R7 000 belowe en die versekering gegee dat sy die sake teen hom sal laat “verdwyn”.
Die saak word deur streeklanddros Kenneth Peters aangehoor. Ndoni en Ephrahim Malgas dien tans vonnisse uit terwyl Bruiners en Lorenzo Malgas op borg is. (Deur Garnett Wicomb)