Begrafnisondernemer swaar gestraf

DIE direkteur van Alpha Star Begrafnisdienste op Oudtshoorn is verlede week in die Oudtshoorn streekhof ’n boete van R50 000 of vyf jaar gevangenisstraf opgelê wat vir vyf jaar opgeskort is, en moet ook die polisgeld van R10 000 aan die familie van ’n polishouer betaal.

Die 39-jarige Jacob Veldman het skuldig gepleit op die klagte dat hy as ’n finansiële diensteverskaffer opgetree het terwyl die besigheid nie geregistreer was nie.

Alpha Star het nie ’n R10 000 polisvoordeel aan die familie van Klara Korkee betaal nie hoewel die polis opbetaald was.

Die begrafnisdiens is daarna deur ’n ander begrafnisondernemer gelewer wat deur ’n sekondêre polis gedek was.

Die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, het die hof versoek om Veldman ’n vonnis van tien jaar gevangenisstraf op te lê wat andere moet afskrik.

“Hy kan nie net ’n tikkie op die skouer kry nie,” het Laubscher gesê.

Volgens haar het vermoedelik meer mense al geld verloor en die beskuldigde doelbewus voortgegaan het om te doen wat hy gedoen het.

Veldman se regsverteenwoordiger, Neil van Wyk, het die hof versoek om vir vonnis in ag te neem dat hy skuldig gepleit en verantwoordelikheid geneem het.

Hy het dus nie die hof se tyd gemors nie.

Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê Veldman is aan ’n ernstige misdaad skuldig bevind terwyl die polishouer nie die begrafnis gekry het wat sy verdien het nie, en dit dikwels die armstes is wat geteiken word.

“Die gemeenskap se belang kom sterk na vore en moet beskerm word.”
Mense word aangemoedig om hul eie besighede te begin maar hulle moenie ander inloop nie,” het die landdros gesê.

Veldman is ’n boete van R50 000 of vyf jaar gevangenisstraf opgelê wat in geheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is. Die hof het ook gelas dat hy voor of op 30 September 2023 R10 000 aan die familie van Klara Korkee moet betaal en ’n bewys daarvan aan die staat moet voorsien. (Deur Garnett Wicomb