Rooms-Katolieke klokke lui weer Sondag vir eerste keer in dekades
Die klokke van die St Saviour Rooms-Katolieke Kerk in Baron van Reedestraat, wat al bykans vir 20 jaar nie meer lui nie nadat dit uit die kerktoring verwyder moes word, gaan Sondag (18 Desember) amptelik geseën en ingehuldig word! Die klokke is reeds ’n klompie weke lank op hul plek, in ’n spesiaal-geboude kloktoring voor die kerk, maar Sondag sal hulle weer vir die eerste keer regoor die dorp gehoor word. ’n Diens sal om 09:00 die oggend plaasvind, met die amptelike seëning van dié klokke wat om 10:00 sal plaasvind. Interessant oor hierdie klokke is dat elkeen, waarvan daar vier is wat altesaam byna ’n ton weeg, hul eie naam het. Van die grootste tot kleinste is die name Salvator Mundi, wat verwys na Jesus Christus, die Redder van die wêreld en ook St Saviour; Advocata Nostra, wat verwys na Maria, moeder van Jesus; Apostolatum Significer, die apostoliese boodskapper – simbool van die verkondiging van die evangelie; en Protector Ecclesiae, die beskermer van die kerk, St Joseph.
Foto: Stefan Skapie Goosen