DIE verhoor van twee mans en twee vroue van Dysselsdorp, waaronder ’n 17-jarige jeugdige, wat van roof met verswarende omstandighede aangekla word, is onlangs in die Oudtshoorn Streekhof tot 13 Februarie 2023 uitgestel omdat ’n tolk vir die klaer nie beskikbaar was nie.
Elmarie August (34), Mario Uithaler (33), Anzil Stuurman (19) en die jeugdige word daarvan aangekla dat hulle op 14 Augustus 2021 ’n buitelandse spazawinkel-eienaar in Bokkraalweg, Dysselsdorp, van R700 kontant, 20 gros sigarette ter waarde van R2 000, Boxer-tabak ter waarde van R1 000 en ’n selfoon ter waarde van R2 000 beroof het.
Hulle het glo pepersproei en messe in die rooftog gebruik.
Al die beskuldigdes pleit onskuldig op die hoofklag terwyl August skuldig pleit op ’n klagte van diefstal. Haar pleitverduideliking is egter nie Dinsdag deur die staat aanvaar nie.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla.
Sy het dit aan die beskuldigdes gestel dat hulle tot vyftien jaar gevangenisstraf gevonnis kan word indien hulle eerste oortreders is.
Adv Pieter van Wyk verskyn vir August, en Eugene Roos van die regshulpraad vir die drie ander. Uithaler is die enigste beskuldigde wat aangehou word. (Deur Garnett Wicomb)