Die vier beskuldigdes in die Preston Titus-moordverhoor gister in die beskuldigdebank op Oudtshoorn. Van links is Justice Mooi, Magdaleen (Maggie) Titus, Natashia Stuurman en MJ January. Foto: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
AANSOEKE deur Magdaleen (Maggie) Titus en Natashia Stuurman, twee van die beskuldigdes in die Preton Titus-moordsaak, vir regshulp is die week in die Rondgaande Hooggeregshof in Oudtshoorn goedgekeur.
Dit volg nadat die saak teen die vier verdagtes in die saak, Titus, Stuurman, Justice Mooin en Masithembe (MJ) January einde Mei deur regter Nolwazi Boqwana uitgestel moes word omdat die twee vroue nie die nodige fondse kon bekom om hul regsverteenwoordigers te betaal nie.
Titus en Stuurman is toe tot einde Augustus tyd gegee om hul geldsake in orde te kry.
Hulle het intussen albei vir regshulp aansoek gedoen. Titus, wat aanvanklik nie vir regshulp gekwalifiseer het nie omdat sy ’n betaalde raadslid van die Oudtshoorn Munisipaliteit was, het intussen op versoek van die ANC as raadslid bedank omdat sy deesdae op Worcester woon.
Die vier moes gister weer in die hof wees sodat Titus en Stuurman se nuwe regsverteenwoordigers op rekord geplaas kan word.
Cindy Smith het namens Hendrik Carstens vir Titus en Lizanne Prinsloo vir Stuurman opgetree.
Albei die regshulpprokureurs het reeds afskrifte van alle dokumente ontvang en sal voor Maandag met hul kliënte konsulteer.
Die saak is tot Maandag (2 September) uitgestel.
Mooi bly in aanhouding, terwyl die ander drie beskuldigdes se borgvoorwaardes verleng is.