Gimmies kry ’n astrobaan

Deur Higgo Jacobs
’N ASTROBAAN gaan by Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn gebou word – op Leeupark op die bestaande B-veld van die skool.

Stephanus Potgieter, skoolhoof van Langenhoven Gimnasium, het verlede week dié belangrike nuus aangekondig en gesê die bou van die baan is ’n lang gekoesterde ideaal van die skool wat nou verwesenlik gaan word.

Volgens Potgieter sien die skool die baan primêr as noodsaaklik vir die blootstelling van hul leerders aan die beste geriewe om hul maksimaal in hokkie te ontwikkel. Hokkiespelers van die skool kompeteer tans tydens proefwedstryde byvoorbeeld met spelers van skole wat gewoond is aan hierdie soort oppervlak.

“Dit sal vir seker in die toekoms verander deurdat ons spelers op ’n weeklikse basis hieraan blootgestel gaan word,” het ’n trotse Potgieter gesê.

Hy sê die skool is bereid om die astrobaan te verhuur aan buurskole wat belang sou stel om hul hokkiespelers daarop te laat oefen.

’n Astrobaan se boonste laag is ’n sintetiese grasoppervlak. Daaronder is ’n skoklaag wat bo-op ’n voorbereide grond­oppervlak gelê word.

Dit word deur middel van ’n siviele konstruksie gebou. Die baan word afgerond met bedrading en plaveisel aan die buitekant.

Sand word dan aan die einde van die proses bo-op die gras gegooi.

’n Maatskappy van Durbanville, DPB, met Jean du Plessis as eienaar en kontrakteur, gaan die baan bou.

Volgens Potgieter het Du Plessis reeds 15 astrobane in die Wes-Kaap gebou.

Bouwerk aan die nuwe astrobaan sal volgens beplanning reeds gedurende September begin.