R1 miljoen se voertuie vir beter dienslewering

Prins Albert se munisipale raadslede het die oorhandiging van die nuwe voertuie en werktuig bygewoon. Van links is Margie Jaftha, Mark Steyn, Stoffel Botes (speaker), Linda Jaquet (onderburgemeester), Goliath Lottering (burgemeester), Suzanne Piedt en Elsabe Maans, en agter is Thulani Kompela (diensverskaffer) en Heinrich Mettler (munisipale bestuurder).                                   Foto: Marlene Malan

Prins Albert se munisipale raadslede het die oorhandiging van die nuwe voertuie en werktuig bygewoon. Van links is Margie Jaftha, Mark Steyn, Stoffel Botes (speaker), Linda Jaquet (onderburgemeester), Goliath Lottering (burgemeester), Suzanne Piedt en Elsabe Maans, en agter is Thulani Kompela (diensverskaffer) en Heinrich Mettler (munisipale bestuurder). Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
Die Prins Albert Munisipaliteit het pas bykans R1 miljoen se voertuie  en ’n werktuig kontant aangekoop om dienslewering  aan sy inwoners te verbeter.

Dié aankoop was moontlik weens nougesette geldbestuur, het die munisipale bestuurder, Heinrich Mettler, by die afleweringsgeleentheid ver­le­de Vrydag aan Die Hoorn gesê. “Dié uitgawe sal dus geen negatiewe geldelike invloed op munisipale belastings hê nie.”

Vier bakkies ter waarde van R690 000 en ’n werktuig (“cherry picker”) vir oorhoofse dienste en herstelwerk (soos straatligte) van R285 000 is aangeskaf vanweë die slytasie van bestaande voertuie en bykomende munisipale behoeftes.

Die burgemeester, Goliath Lottering, het Mettler en sy span, onder andere Jannie Neethling (hoof: finan­- siële dienste) en Anneleen Vorster (hoof: korporatiewe dienste), geluk gewens “met uitstekende geldbe­stuur, wat dit vir ons moontlik ge­maak het om dié voertuie en werktuig kontant te koop. Ons kon dit doen deur middel van ons beleggings; ons hoef nêrens lenings aan te gegaan het nie. Ons administrasie het hard ge-werk om dit moontlik te maak.

“Ons wil dienslewering aan inwo­ners maksimaal verbeter, dit na ’n vol­gende vlak neem. Daarom gaan die munisipaliteit let op die versorging van die nuwe bates. Geen mis­bruik sal toegelaat word nie. Dit sal in ’n uitstekende toestand bly. Die ingeboude opsporingstelsels sal ons hier­mee help.”

Die ouditeur-generaal het einde 2017 bekend gemaak dat die munisi­pa­liteit ’n skoon oudit­ver­slag vir 2016/2017 behaal het – die enigste in die Sentrale Karoo wat dié prestasie kon behaal. Lottering het toe gesê dat dié regmerk agter Prins Albert se geld­bestuursvermoëns dit moontlik maak om infrastruktuur te verbeter, skuld te delg en kontantaankope te doen. Aan die einde van dié boekjaar het die munisipaliteit nagenoeg R20 miljoen na sy reserwefonds oorgeplaas.