Die Oudtshoorn Advieskantoor-bestuur. Van links is Frank Olischlager (tesourier), Emile Cupido (woordvoerder, Susan Meyer (sekretaresse), Daniel Swarts (voorsitter) en Jerome Opperman (ondervoorsitter). Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
en Angelique Erasmus
HULLE wil ’n mondstuk vir die inwoners wees, sê die bestuurslede van die nuutgestigte Oudtshoorn Advieskantoor.
Die Advieskantoor het Maandag inwoners se aandag getrek met plakkate op verskeie straathoeke in die omgewing van die munisipaliteit oor die toestand van Oudtshoorn se water en ander kwessies.
Gister het bestuurslede ’n memorandum met griewe aan die burgemeester, Colan Sylvester, en waarnemende munisipale bestuurder, Reginald Smit, oorhandig met die versoek dat die munisipaliteit binne sewe dae op die griewe moet reageer.
Luidens die memorandum van vier bladsye is die gemeenskap ongelukkig oor “vuil water en onwettige tariewe”, ’n “onwettige begroting”, “aanstellings van mnr Allen Paulse se vriende uit Bitou en Paarl”, die onlangse “raadsvergadering wat op ’n privaatplaas gehou is” en die “onreëlmatige en onwettige aanstelling van wit besighede en kontrakteurs’.
In die memorandum eis die Advieskantoor ’n ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid oor al die bogenoemde kwessies, en sê hulle beoog om kriminele klagtes teen verskeie senior munisipale amptenare en raadslede in te dien.
• Bestuurslede van die Oudtshoorn Advieskantoor het aan Die Hoorn gesê hulle wil na die inwoners van Oudtshoorn luister en dan optree. “Ons moet saamstaan om die knelpunte aan te spreek. Ons sal voluit gaan om vir ons gemeenskap te werk,” sê Emile Cupido, die Advieskantoor se woordvoerder.
Volgens hom wil hulle inwoners bystaan met munisipale kwessies oor die afgelope vier termyne wat die DA en ANC op die dorp in beheer was.
“Ons sal aanvanklik fokus op mense wat baie lank op behuisingswaglyste is en ook Oudtshoorn se vuil drinkwater en hoë tariewe.”
Volgens hom is die vyf pilare van hul ligaam onderwys, gesondheid, maatskaplike ontwikkeling, veiligheid en justisie, en is dit belangrik dat aangeleenthede soos jeugontwikkeling en misdaad aangespreek word.
“Ons moet vra: Hoe werk ons saam aan ’n oplossing vir probleme soos misdaad. Daar is niks meer oor om in Bridgton te steel nie,” sê Frank Olischlager, tesourier.
Jerome Opperman, ondervoorsitter, het aangedui dat hulle ook wil werk vir die suksesvolle herintegrasie in die gemeenskap van mense wat in die gevangenis was.

Verteenwoordigers van die nuutgestigte Oudtshoorn Advieskantoor het gister ’n memorandum op die trappe van die munisipale gebou aan die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester (tweede van regs) en die waarnemende munisipale bestuurder Reginald Smit (tweede van links) oorhandig. Die Advieskantoor se lede is van links Jerome Opperman (onder-voorsitter), Daniel Swarts (voorsitter) en Emile Cupido (woordvoerder). Foto Angelique Erasmus

Plakkate oor die toestand van Oudtshoorn se water en ander kwessies was Maandag op straathoeke in die omgewing van die munisipale gebou op Oudtshoorn te sien. Die plakkate was die inisiatief van die Oudtshoorn Advieskantoor. Foto: Liesel le Roux