DNS-verslae, selfoonrekords nog uitstaande

Preston Titus-moordsaak 6 weke uitgestel

Magdaleen Titus, afgeneem na ’n raadsvergadering van die Oudts­hoorn Munisipali­teit op 29 Junie.                 Foto: Garnett Wicomb

Magdaleen Titus, afgeneem na ’n raadsvergadering van die Oudts­hoorn Munisipali­teit op 29 Junie.  Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
MET DNS-verslae en selfoonrekords wat steeds uitstaande is, sal dit nog minstens ses weke duur voordat die ondersoek na die moord van Preston Titus afgehandel kan word.

Met dié nuus van die staatsaanklaer, Corné Pretorius, is die saak teen die vier verdagtes in die moordsaak van Titus, ’n oud-soldaat,  gister in die Oudtshoorn Landdroshof tot 20 Augustus 2018 uitgestel.

Magdaleen (Maggie) Titus, ’n ANC-raadslid van Oudtshoorn en we­du­wee van Titus, haar boesem­vriendin Natashia (Tessa) Stuurman, Justice Mooi en Masimthembe (MJ) January, word van moord met voorbedagte rade en besit van gevaarlike wapens aangekla.

Titus is in Desember verlede jaar wreed in sy slaapkamer vermoor. Daar was glo 27 steekwonde aan sy liggaam.
Pretorius het die hof gister versoek om die saak voorlopig nog ses weke uit te stel vir verdere ondersoek.

Op ’n vraag van landdros Roelf Konstabel het Pretorius gesê dat die ondersoekbeampte, ao Darome Bur­ger, hom meegedeel het dat dit nog ten minste ses weke sal duur. Hy het ook gemeld dat ’n ondersoek van ses maande in ’n ernstige geval soos hier­die nie lank is nie.

Konstabel het sy kommer uitgespreek oor die afwesigheid van twee van die verdagtes se regsverteen­woordigers sonder dat die hof daarvan in kennis gestel is.

Titus se regsverteenwoordiger, Joshua Greeff, wat vir Chris Morgan (vir Stuurman) en Daan Derksen (vir January) ingestaan het, het die landdros die versekering gegee dat hy dit so aan die twee regsverteenwoordigers sal oordra.

Die landdros het aanvaar dat hulle reiskoste wil bespaar, maar beklemtoon dat dit onaanvaarbaar is om weg te bly sonder om die hof in kennis te stel.

Hy het die saak op versoek van Greeff en met die toestemming van die staat tot 20 Augustus uitgestel. Greeff het die hof ook versoek om Stuurman se lasbrief wat met die laaste verskyning aangevra is, in te trek.

Titus en Stuurman se borgtog van onderskeidelik R30 000 en R15 000 asook hul borgvoorwaardes is tot dié datum verleng, terwyl Mooi en Ja­nuary in aanhouding bly.

Die hof was weer stampvol met onder meer familielede, onder wie Preston Titus se moeder, wat spesiaal van­af Worcester na Oudtshoorn ge­kom het.

Buite die hofgebou was dit in teenstelling met die vorige verskynings van die verdagtes, egter doodstil met nie eens ’n polisievoertuig in sig nie.