Deur Reinderd Visser
Wie was Vic Clapham?
Vic Clapham se nalatenskap is een van die wêreld se bekendste ultramarathons, die Comrades.
As ’n soldaat wat die hel van Duits-Oos-Afrika oorleef het, het hy bereken dat hy en sy mede-stryders in sowat ’n jaar meer as 2 700 km te voet afgelê het! Ná die oorlog wou hy die kameraderie en deursettingsvermoë van die soldate op ’n spesiale manier gedenk. Hy het gemeen ’n veeleisende wedloop wat deelnemers tot die uiterste toets, sou ’n herdenking van die gees van kameraadskap van die soldate van die Groot Oorlog wees.
Clapham het toestemming gevra vir ’n wedloop van sowat 55 myl (sowat 88 km) tussen Pietermaritzburg en Durban. Hy is aanvanklik toestemming geweier, maar sy droom het in 1921 gerealiseer toe hy die groen lig gekry het.
Met die steun van die Comrades of the Great War, ’n vereniging vir terugkerende veterane, het die eerste wedloop op 24 Mei 1921 plaasgevind.
Daar was 34 deelnemers, met 16 wat die wedloop voltooi het. Die wenner was Bill Rowan in ’n tyd van 8 uur 59 minute. Vandag word medaljes met sy naam aan deelnemers gegee wat die Comrades onder nege ure voltooi. Atlete wat die wedloop in tussen 11 en 12 ure voltooi, ontvang ’n medalje met Clapham se naam op. Die afsnytyd is 12 ure.
Lees gerus onder oor die Groot Oorlog en Clapham.

Vic Clapham.

Deur Reinderd Visser
My kennis van Suid-Afrika se rol in die Eerste Wêreldoorlog was tot onlangs uiters beperk. Ek het van die slag van Delvillebos in Frankryk en een of twee ander dinge geweet, maar verder was die oorlog vir my iets wat daar ver in Europa geveg is.
Intussen het ek baie bygeleer, ook dat die oorlog ook buite Europa geveg is. Trouens, Suid-Afrika se eerste deelname daaraan was in 1914/1915 in ons buurland Namibië, of Duits-Suidwes-Afrika soos dit toe bekend was. Die vingers van die Eerste Wêreldoorlog was tot in Duits-Oos-Afrika (tans Tanzanië, Burundi en Rwanda) – en Suid-Afrika was ook dáár betrokke!
Ek wonder hoeveel Suid-Afrikaners weet dit. Die ironie is dat ons eintlik daarvan behóórt te weet. Om die waarheid te sê behoort ons elke jaar met die Comrades-wedloop in Junie daaraan herinner word. Lees verder as jy wonder hoe die Comrades en die oorlog in Duits-Oos-Afrika bymekaar pas.
Ná die suksesvolle afhandeling van die Duits-Suid-Wes offensief, was die vraag waar Suid-Afrika verder by die oorlog betrokke kon raak. Die keuse was Duits-Oos-Afrika. Min het hulle geweet in watter hel hulle hul begewe!
Die oorlog in die streek het al in 1914 begin, maar die Geallieerdes het aanvanklik ’n beperkte hoeveelheid soldate daar beskikbaar gestel aangesien ander konflikareas as belangriker beskou is. Dit het die Duitsers kans gegee om hulleself goed te posisioneer vir jare se konflik wat sou volg. Die uitgeslape Duitse genl Von Lettow-Forbeck het ’n gemotiveerde en goed opgeleide groep soldate om hom versamel; meeste van hulle swart soldate bekend as die sogenaamde Askari’s.
Begin 1916 het die Geallieerdes besluit om meer soldate na Oos-Afrika te stuur om die Duitse magte finaal en so gou moontlik te neutraliseer. Genl Jan Smuts het ingestem dat Suid-Afrika sou help en troepe is per skip na Kenia geneem. Hul eerste kontak met die vyand was op 12 Februarie 1916, met die opdrag om ’n heuwel aan die Kenia-kant van die grens in te neem. Dit was ’n katastrofe!
Die generale staf het die hoeveelheid vyand wat die heuwel beset het, totaal onderskat en ’n duur prys betaal. Al kon hulle dit later inneem, sou dit die begin wees van vele terugslae. Ten spyte daarvan dat daar drie maal so veel Geallieerde as Duitse magte in Duits-Oos-Afrika was, sou Von Lettow-Forbeck se manier van oorlog maak en die plaaslike omstandighede die
Geallieerdes byna op hul knieë dwing.
Von Lettow-Forbeck het besef dat konvensionele oorlogvoering die Duitsers se spoedige einde sou beteken. Hy het daarom gekies om ’n soort guerilla oorlog te veg – die Duitsers sou heeltyd aan die beweeg bly en die vyand die stryd aansê op plekke waar hulle skade kon aanrig en dan vinnig die aftog kan blaas. En daar was baie wegkruipplek!
Duits-Oos-Afrika was byna so groot soos Suid-Afrika, met weinig infrastruktuur en paaie. Die natuur was ook teen die aanvallers – die reënseisoen het alles in modder en moerasse omskep. Saam met digte reënwoude sou dit effektiewe oorlogvoering byna onmoontlik maak. ’n Ernstiger probleem was die malariamuskiet en tsetsevlieg. Die een het soldate en ondersteuningspersoneel siek en doodgemaak terwyl die ander diere uitgewis het! Dit sou ’n lang en uitmergelende stryd word.
Genl Smuts wou die oorlog gou wen. Met sy aankoms in Oos-Afrika het plaaslike offisiere hom aangeraai om eers te wag omdat die swaar reënseisoen op hande was. Smuts wou egter die vyand onkant vang en die manskappe moes byna onvoorbereid sommer gou ’n groot afstand te voet aflê sodat hulle die vyand kon verras. Dit was die begin van duisende kilometer se stapwerk terwyl hulle op die spoor van die ontwykende Duitsers probeer bly het.
Een van die soldate was Vic Clapham van Natal. Hy het Duits-Oos-Afrika saam met sy kamerade deurkruis ag- ter die Askari-bataljonne aan. As gevolg van die spoed waarteen hulle moes beweeg en die onherbergsame terrein, het hulle hul ondersteuningskonvooie dikwels agtergelaat en onvoldoende toegang tot rantsoene of medisyne gehad. Hulle moes egter ten spyte daarvan vooruit. Behalwe vir mede-soldate wat tydens skermutselinge met die vyand gewond of gedood is, het vele soldate en pakdraers koorsig geraak en selfs aan veral malaria gesterf. Tropiese siektes soos swartwaterkoors het ook bygedra tot die lot van die soldate.
En daar was die diere. Deneys Reitz skryf dat ryperde en pakdiere soos donkies en muile in die reënseisoen binne twee weke nadat hulle by die hawe afgelaai is, as gevolg van die tsetsevlieg siek geraak en gevrek het. Tienduisende diere is so verloor.
Clapham en sy makkers kon uiteindelik groot dele van Duits-Oos-Afrika inneem, maar nooit die glibberige gene- raal vang nie.
Hy het eers ná die skietstaking in November 1918 oorgegee.
• Bronne: The Great Silence – Tim Couzens; Deneys Reitz – Trekking On; www.comrades.com