‘Professionele’ inbraak by Timbercity

Twee van die sewe gate wat die inbrekers in die dak van Timbercity gemaak het.

Deur Schalk le Roux

DIT was ’n professionele “job’, sê André van Greunen van Timbercity in Jacobsonstraat op Oudtshoorn oor inbrekers wat laasnag deur die dak toegang tot die onderneming gekry het.Die inbrekers, wat toegang tot  Timbercity gekry  het deur die dak van die gebou het die besigheid se kluis met ‘n sweisvlam oopgesny en al die geld wat daarin was gesteel.

Die inbrekers het eers ’n gat in die heining aan die agterkant van Timbercity se perseel gesny waarna hulle minstens sewe gate in die dak gemaak het waardeur hulle in die winkel gekom het. Die rede vir die baie gate in die dak is nie duidelik nie.

Een van die gate was aan die bokant van Van Greu­nen se kantoor. Toe een van die inbrekers deur die plafon in die kantoor gespring het, het hy bo-op die besigheid se rekenaarbediener te land gekom en dit aan flarde gebreek. Al Timbercity se finansiële en bedryfsinlig­ting is op die bediener.

Timbercity het ’n stelsel wat elke aand ’n afskrif (backup) van al die inligting op die bediener op ’n rekenaar op George dupliseer.

Met Die Hoorn se besoek aan Timbercity vanoggend was die Polisie besig om die misdaadtoneel te ondersoek.

Volgens Van Greunen het die Polisie aan hom gesê die inbrekers het geweet wat hulle doen.

Hulle het die inbraak afgehandel sonder dat Timbercity se alarmstelsel afgegaan het. Daar was volgens Van Greunen ook niks getuienis op die sekureiteits­kameras oor die inbraak nie.

Die totale skade wat Timbercity gely het weens onder meer die stukkende dak, die bediener, die kluis en die inhoud van die kluis is na raming nie ver van ‘n miljoen rand nie.