Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Prins Albert wat aan seksuele aanranding skuldig bevind is, is verlede Maandag in die streekhof op Oudtshoorn ’n opgeskorte vonnis opgelê en in huisarres geplaas.
Die 28-jarige Marchelle Tala is daaraan skuldig bevind dat hy ’n 13-jarige meisie die aand van 4 Maart 2017 seksueel aangerand het deur haar te betas.
Hy het onskuldig gepleit.
Die kind se moeder het getuig dat hy haar die volgende dag om verskoning gevra en gepleit het om die saak te laat vaar omdat hy dronk was en net met haar dogter gespeel het.
Streeklanddros Daniel Boks het Tala se weergawe verwerp en hom skuldig bevind soos aangekla.
Hy is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is en 24 maande korrektiewe toesig wat behels huisarres behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
Hy moet hom weerhou van die gebruik van alkohol en sestien uur per maand vrywillige gemeenskapsdiens verrig.
Die hof het ook gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem word.