Bekende oud-onderwysers en groot vriende verjaar

Ampie Wicomb (middel) met sy 98ste verjaardag saam met Philo Mull­er (links) en David Jullies (82), al drie lewenslange ere-diakens van die Weyers Memorial United Congregational Kerk.  Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
TWEE baie bekende oud-onderwysmanne en groot vriende van Oudts­hoorn, wat baie jare saam skool­- gehou het, het einde verlede jaar onderskeidelik hul 98ste en 84ste verjaardae gevier.

Adam Wicomb, alombekend as meester Ampie, van 6de Laan, Colridge View, het op 20 Desember 2018 sy 98ste verjaardag gevier en Phillip Muller, alombekend as mees­ter Philo, sy 84ste twee dae later.

Albei het vir 37 jaar onderwys gegee voordat hulle onderskeidelik in 1981 en 1993 die beroep vaarwel toegeroep het.

Meester Ampie is ’n boorling van Matjiesrivier en een van die eerste leerders van die Hoërskool Môrester op Oudtshoorn. Meester Philo is ’n boorling van Dysselsdorp.

Meester Ampie was vanaf 1967 tot sy uittrede in 1981 hoof van die Vlakteplaas UCC Primêre skool en meester Philo van dié jaar tot sy aftrede in 1993. Hulle het hul onderwysloopbane onderskeidelik op La­- dismith en Grootkraal begin.

Hulle het ook vir etlike jare saam as diakens van die Dysselsdorp United Congregational Kerk gedien en later van die Oudtshoorn Congregational Kerk.

In 1985 was hulle twee van die stigterslede van die Weyers Memorial United Kerk en is tans le­wenslange ere-diakens.