Man wat vrou skop, trap en met mes steek, kry agt jaar

Deur Garnett Wicomb
’N MAN van De Rust wat sy voormalige meise en ma van sy kind erns­tig aangerand en aan poging tot moord skuldig bevind is, is in die streekhof op Oudtshoorn agt jaar gevangenisstraf opgelê.

Heinrich Swartbooi (27) het vir Vichonna Hendricks die aand van 20 Mei 2017 in Randstraat, De Rust, voorgekeer, geskop en getrap en twee keer met ’n mes gesteek nadat hy haar vroeër die aand in ’n taverne saam met ander mansvriende sien kuier het.

Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, het die hof versoek om Swartbooi vir lank tronk toe te stuur omdat die gemeenskap “siek en sat” is vir die misdryf wat algemeen voorkom en hy die opset gehad het om dood te maak. Hy het gesê Swartbooi was onder gemeenskaps- korrektiewe toesig toe hy die misdryf gepleeg het en toon nie enige berou nie.

Hendricks moes meer as een ope­rasie ondergaan na die aanranding.

Swartbooi se regshulpprokureur, Brian Carelse, het vir sy vryspraak gevra omdat staatsgetuies mekaar weerspreek het en die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie. Streeklanddros JC Nortje het egter bevind dat dit nie die geval is nie en Swartbooi soos aangekla skuldig bevind.

“Dit is ’n baie ernstige misdaad teen ’n weerlose vrou en net genade dat sy volkome herstel het,” het die landdros gesê. Hy het ook die hoop uitgespreek dat dit die laaste keer is dat hy Swartbooi in die hof sien.

Swartbooi is tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan drie jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit of ’n vuurwapenlisensie te bekom.

Polisie vra hulp

DIE Oudtshoorn Polisie vra die pu­bliek om hulle te help nadat twee wit sakke met 26 volstruisieiers daarin by ’n man in Kanaalweg, Bongolethu gevind is. Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die polisie ’n 42-jarige man op 30 Desember omstreeks 12:30 met die eiers in sy besit in hegtenis geneem. Enigiemand met inligting kan sers Sharone Flemmer kontak by tel 044 203 9017. Inligting sal vertroulik hanteer word.