Oudtshoorn Poskantoor ondersoek ’n saak van moontlike bedrog nadat verdagte onttrekkings uit ’n inwoner se SASSA-toelaagrekening onder hul aandag gebring is.
Die Hoorn het op 13 Augustus die volgende boodskap van Elsie Wagenaar van Oudtshoorn, ontvang: “Wie kan ek kontak? Ek wil die koerant na die poskantoor stuur. Ek en my broer het agtergekom sy pensioen/toelae het daar verdwaal. Ons wil weet hoe?”
Volgens Elsie het haar broer, Sias, sedert Maart geen geld ontvang nie. Sy toelaes vir Maart tot Julie was beskikbaar (hulle het dokumente wat dit bewys), maar die poskantoor wou dit nie uitbetaal nie, aangesien dit nie aan hulle kant beskikbaar was nie.
Volgens Elsie is sy en Sias van die een persoon na die ander gestuur, sonder enige antwoorde.
’n SASSA-verteenwoordiger het vinnig ingegryp na ’n navraag van Die Hoorn en Elsie se besonderhede aangevra. ’n Ondersoek is geloods.
Op 26 Augustus het ’n woordvoerder van SASSA gesê ’n saak van bedrog is reeds op 4 Augustus deur die bestuurder van die Oudtshoorn Poskantoor by hul hoofkantoor geregistreer. Volgens hom is die res van die toelae (R5 000) by ’n Absa- en FNB-kitsbank onttrek nadat Sias in Julie ’n bedrag van R2 110 by die poskantoor ontvang het. “Die plaaslike poskantoor wag nog op terugvoer van hul hoofkantoor oor hul ondersoek,” het die woordvoerder gesê.
Die Oudtshoorn Poskantoor het Dinsdag bevestig dat die saak deur hul hoofkantoor ondersoek word. “Ons is nie seker of die kaart gekloon is nie, maar daar was beslis bedrog op die rekening. Ons het ’n nuwe kaart vir Sias uitgereik, en hy sal dié maand geld kan trek. Die verlore geld sal aan hom betaal word wanneer die ondersoek afgehandel is.” (Deur Stefan Skapie Goosen)