AL die toerisme-instellings in die Groter Oudtshoorn is oop en gretig om besoekers te ontvang, maar die dorp se toerisme-ikoon, die Kango Grotte, is steeds gesluit. Hoekom?
Dit was vandeesweek die vraag van toerismerolspelers op die dorp. Niel Els, oud-voorsitter van Oudtshoorn Toerisme en bestuurslid van Skål Internasionaal, sê dit maak geen sin dat die Grotte, die toerisme-anker van die dorp wat toeriste na Oudtshoorn trek, se deure steeds toe is nie.
“Die volstruisplase is almal oop, die Cango Wildlife Ranch en Wilgewandel is oop en gereed om besoekers te ontvang, maar almal in die toerismebedryf, wat baie swaarkry die afgelope maande met die inperking, wil weet waarom die personeel van die Grotte nog nie op hul pos is nie.
“Niemand was die afgelope vyf maande by die Grotte nie, dus is daar geen manier hoe die virus daar kon inkom en is dit nie nodig om dit te ontsmet nie; en daar is reeds glasafskortings waar kaartjies verkoop word.”
Die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, het gister op navraag van Die Hoorn gesê hy stem saam dit is belangrik dat die Kango Grotte, swembaddens, biblioteke en museum moet open.
Volgens hom is die opening van die Grotte vertraag deur die afhandeling van die tender vir die daaglikse vervoer van personeel na en van die Grotte.
“Alles verder daar is gereed. Ons mikpunt is om die Grotte volgende Woensdag te open.”
Die CP Nel Museum is ook gereed om te open, en wag net vir goedkeuring op nasionale vlak, terwyl die biblioteek oop is vir diegene wat rekenaars gebruik of leeswerk wil doen. Boeke mag egter nog nie uitgeneem word nie.
Swembaddens sal waarskynlik op 1 Oktober open. Macpherson sê die komitee gemeenskapsdienste skenk tans aandag aan voorsorgmaatreëls om veiligheid daar te verseker, veral in die lig van ’n verdrinking in Januarie in die Bridgton Swembad. (Deur Liesel le Roux)