’N GROEP ontstoke inwoners van Seppieville, ’n nedersetting wat langs die Bongolethu-sirkel ontstaan het nadat inwoners verlede jaar ’n oop stuk grond daar beset het, dreig om die hele week voorwerpe in die pad te brand omdat dienslewering aan die gemeenskap volgens hulle al vir maande ontbreek.
Dié inwoners het Dinsdagoggend sedert 07:00 onder meer bande en plastiek-voorwerpe in die pad gebrand en verkeer in die gebied vertraag.
Volgens hulle is dit al manier hoe hulle die Oudtshoorn Munisipaliteit se aandag kan trek.
Die Oudtshoorn Brandweer, Verkeersdienste asook die Polisie was inderdaad op die toneel.
Patrick Hendricks, ’n gemeenskapswoordvoerder, sê inwoners hier het ’n dringende nood aan toilette en water.
“Ons is baie ontevrede! Plekke soos Hopeville is na ons beset, maar hulle het voor ons toilette en water gekry. Ons skryf al vir vyf of ses maande briewe aan die burgemeesterskomitee, maar kry geen terugvoer nie. Ons het selfs met die wyksraadslid vergader, maar niks gebeur nie,” sê Hendricks. Die inwoners het volgens hom Sondag weer met die raadslid vergader, maar het ook dié ontmoeting nog geen vrug gedra nie.
“Ons raak nou moeg daarvoor dat niemand na ons luister nie. Mens wil nie gewelddadig raak nie, maar wat anders kan ons doen? Hier is kinders, oumense en gestremdes wat sukkel. Ons gaan alles versper tot iemand luister,” sê hy.
Navrae is aan die munisipaliteit gestuur, maar teen druktyd is nog geen terugvoer ontvang nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)