VYFTIEN mense het Saterdagaand hul blyplekke en al hul besittings verloor toe sewe woonstrukture op ’n erf in Polisiehoogte op Oudtshoorn afgebrand het.
Die bewoners van die wooneenhede op die erf van Christina Bambami is almal uitlanders, en tussen twee en 70 jaar oud.
Die Oudtshoorn Bandweer was gou op die toneel en kon die hoofhuis en nog twee woonstrukture op die erf red. Niemand is beseer nie.
Die brand het volgens een van die inwoners, Felicia Hanse, kort na 18:00 ontstaan. Volgens haar het mense vuur gemaak op ’n oop stuk grond agter hul wooneenhede en is die vlamme deur wind aangedryf.
“Ons wonings was binne ’n ommesientjie aan die brand en ons kon feitlik niks red nie. Al ons klere en meubels asook wasmasjiene en ons bakkie het in die slag gebly,” het Hanse gesê.
Volgens Phillip Seroux, ’n gemeenskapswerker van Polisiehoogte, is twee mans glo in verband met die brand in hegtenis geneem, maar kan hy nie kommentaar lewer oor die omstandighede wat aanleiding gegee het tot die brand nie. Hy sê hy is na die brand uitgebreek het, deur mense geroep en het die brandweer gebel.
• Mense wat die slagoffers van die brand met klerasie, kos, meubels of finansieel kan help, kan Felicia Hanse kontak by 078 009 8430. (Deur Garnett Wicomb)
