Man kry 15 jaar tronkstraf vir moord

’N MAN van Bridgton wat skuldig bevind is daaraan dat hy die wet in eie hande geneem en moord gepleeg het, is Maandag in die Oudtshoorn Streekhof 15 jaar-gevangenisstraf opgelê.

“Moorde op Oudtshoorn raak ’n probleem,” het streeklanddros Ntsoki Moni met die vonnisoplegging van Heinrich Booysen gesê.

Booysen het in ’n bekentenis erken dat hy die aand van 28 Februarie 2016 vir David Sampson in Johan Gelderbloemstraat in Smartie Town een keer met ’n mes gesteek het.

Volgens hom was hy die aand by ’n dobbelpoel waar hy al sy geld verloor het en later deur die oorledene en nog drie mans aangerand is.

Hy het weggekom en ’n mes by die huis gaan haal om hulle te konfronteer en skrik te maak.

Volgens hom het iemand hom met ’n spanhoutjie geslaan en hy het daarna een van hulle raakgesteek.

Hy het die volgende dag verneem dat Sampson dood is en hom aan die polisie gaan oorgee.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof vir lang tronkstraf gevra aangesien daar geen wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie.

“Die beskuldigde moes geweet het dat ’n mes ’n gevaarlike wapen is.
“Hy is na die oorledene se huis om wraak te neem en het die wet in eie hande geneem om hom te straf.”

Die oorledene se moeder, Sanna Sampson, het getuig dat sy haar geliefde seun verloor het en sy nie sy dood kan verwerk nie.

Volgens Booysen se regshulpprokureur, Wenzel Botha, kan daar nie gesê word dat hy die opset gehad het om moord te pleeg nie.

Sy bekentenis is ook net ’n weergawe van wat die betrokke aand gebeur het en maak die staat op omstandigheidsgetuienis staat.

Streeklanddros Ntsoki Moni het bevind dat Booysen wel ten doel gehad het om moord te pleeg en die reg in eie hande geneem het.

Hy het gesê hy het in ag geneem die beskuldigde is spesiaal huis toe om ’n mes te gaan haal en het toe na die oorledene se huis gegaan.
Booysen is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)