Polisie vra hulp na 2 verkragtings

DIE Oudtshoorn Polisie het vandeesweek ’n beroep op inwoners van die dorp gedoen om na vore te kom met inligting wat kan help in die ondersoek van twee sake van verkragting.

Volgens ’n polisiewoordvoerder, sers Gretchen Mi­chaels, is ’n 15-jarige meisie omstreeks 18:00 op 15 Julie in Vierdelaan, Bongolethu deur ses onbekende mans gegryp toe sy in die straat geloop het.

“Hulle het haar na ’n woning geneem waar sy deur een van die mans verkrag is, maar voordat een van die ander mans haar kon verkrag, het sy dit reggekry om weg te hardloop.”

Die tweede geval het volgens Michaels die nag van 21/22 Augustus plaasgevind. “ ’n Dertigjarige vrou was op pad na haar vriend se woning nadat sy by ’n taverne gekuier het. Sy het in die omgewing van die blinkhokke in Rosevalley geloop toe iemand haar van agter gryp en met haar in die bosse ingehardloop het.”

Volgens Michaels was dit donker en kon die vrou nie ’n beskrywing van die persoon gee nie, ook nie hoe­veel persone daar was nie.

“Sy is beroof van R150 asook oorbelle ter waarde van R50. Die doktersverslag het bevestig dat sy verkrag is,” het Michaels bygevoeg.

Enigiemand met inligting oor hierdie gevalle kan ao Bestbier skakel by 044 203 7508 of 7518. Inligting sal vertroulik hanteer word. (Deur Stefan Skapie Goosen)