Pastoor in Februarie 2020 verhoor

DIE saak teen ’n pastoor van Oudtshoorn wat van die verkragting en onsedelike aanranding van twee minderjariges 15 jaar gelede asook die onwettige besit van pornografiese materiaal aangekla word, is verlede week in die streekhof vir verhoor tot volgende jaar uitgestel.

Die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, het die hof meegedeel dat die staat gereed is om met die verhoor te begin.Volgens haar is alle inligting ten opsigte van die klagtes oor pornografie waarvoor die verdediging gevra het, verskaf.

Die 59-jarige verdagte staan tereg op altesame 37 aanklagte – drie van verkragting, vier van seksu­ele aanranding en dertig vir die besit van films of publi­kasies wat uitbeeldings, beskrywings of to­nele van kinderpornografie bevat en vanaf sy rekenaar verkry is.

Die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het vir nog tyd gevra om die bewysstukke ten opsigte van pornografie te bestudeer.

Streeklanddros Daniel Boks het die saak vir ’n laaste keer uitgestel en dit as voorkeursaak vir drie dae se verhoor, van 24 tot 26 Februarie 2020, op die hofrol geplaas. Die beskuldigde se borgtog van R10 000 en borgvoorwaardes is tot dan verleng.

Hy is in Oktober 2018 in hegtenis geneem en by verskeie vorige hofverskynings deur gemeentelede ondersteun.

(Deur Garnett Wicomb)