‘Dinge kan nie so aangaan’

Taxibestuurders verlede Vrydagoggend in Hoogstraat op Oudtshoorn. Foto: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
DELE van Hoog-, St John- en Kerkstraat in Oudtshoorn se middedorp was verlede Vrydagoggend vir ’n tyd lank gesluit na protesoptrede deur taxibestuurders oor die toestand van toiletgeriewe by die taxistaanplekke in die middedorp.

Die taxibestuurders het rommel in die strate gebrand om hul misnoeë oor die situasie uit te spreek.

Leslie Meiring, woordvoerder van die Taxibestuurdersforum, het aan Die Hoorn gesê dat dinge nie meer so kan aangaan nie.

“Die haglike toestande by die taxi-staanplekke in Oudtshoorn se middedorp is onhigiënies en mense kan nie die toilette gebruik nie.”

Volgens Meiring sukkel hulle reeds meer as ’n jaar dat die munisipaliteit die stukkende toilette herstel.
“Hier was iemand van die mu­ni­sipa­liteit, maar dis waar dit bly. Ons maak self die taxi rank skoon, en Vrydagoggend toe sien ons die pype by die toilette is gesteel.

“Dit raak nou ’n probleem,” het hy gesê.

Meiring en sy mede-taxibestuurders sê hulle probeer ook die staanplek veilig hou vir hul passasiers.

Volgens hom sal hulle onderneem om die toilette skoon en netjies te hou as die munisipaliteit dit sal regmaak.

Oudtshoorn se burgemeester, Co­lan Sylvester, het die toneel Vrydag besoek en nadat hy met aanwesiges gesels het, is almal vreedsaam uiteen.

Munisipale personeel het daarna die strate opgeruim en die teeroppervlak skoongespuit.