Magdaleen Titus. Foto: Garnett Wicomb
DIE Preston Titus-moordsaak kon nie gister in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn hervat word nie omdat die sleutelverdagte, Magdaleen Titus, siek was.
Die saak is Vrydag na die sluiting van die verdediging se saak, vir slotargumente deur die regsverteenwoordigers van die vier beskuldigdes en die staatsaanklaer tot gister uitgestel.
Hofgangers het gister bykans twee ure geduldig gewag vir hofverrigtinge om te begin totdat Titus se regsverteenwoordiger, Henk Carstens, die hof meegedeel het dat sy kliënt siek is en weer Vrydagoggend by die hof sal wees.
Regter Nolwazi Boqwana het op versoek van die staatsaanklaer, adv Chris van der Vijver, versoek dat Titus se borgtog van R30 000 voorlopig verbeurd verklaar word en ’n lasbrief uitgereik maar teruggehou word tot Vrydag.
Masithembe MJ January was die laaste van die vier beskuldigdes wat Vrydag getuig het. Hy het onder meer getuig dat hy nie kan verstaan waarom Justice Mooi hom die oggend van 2 Desember 2017 gebel het om te sê dat hulle Preston Titus vermoor het en hy Maggy moet vra om die geld aan te stuur nie.
Volgens hom was dit seker omdat hy en Magdaleen Titus toe nog in ’n verhouding was.
January het ook getuig dat dit Maggy was wat vir hom en Klip versoek het om hul selfone skoon te vee.
Hofverrigtinge begin Vrydag om 09:00.
(Deur Garnett Wicomb)