Konsertgangers links saam met Sulayman Human en John Theodore na afloop van Dinsdagaand se konsert. (Foto: Garnett Wicomb) Bo is John Theodore in aksie in ’n volgepakte Emporium.

’N MEESTERLIKE vertoning.
So het David Piedt Dinsdagaand die vertoning van John Theodore en Sulayman Human in ’n volgepakte CapeKaroo Ostrich Emporium beskryf. En almal wat die konsert bygewoon het, was dit met Piedt eens
Theodore en die talentvolle jong Human, wat reeds internasionaal naam gemaak en al ’n rits kompetisies gewen het, het staande ovasies van die groot en waarderende gehoor van musiekliefhebbers vir hul briljante vertolking van werke van Beethoven, Rachmaninoff en Liszt gekry.
Die twee se duetvertoning na pouse was die kersie op die koek.
Piedt het die bedankings gedoen en die hoop uitgespreek dat dit nie die laaste keer sal wees vir konserte soos dié en dat nog talentvolle pianiste van die dorp en die streek, soos die 14-jarige Quiden Blaauw, ook die geleentheid sal kry om sulke blootstelling te kry.
Konsertgangers was dit eens dat dit ’n konsert was wat baie lank onthou sal word.
“Dit was ’n belewenis wat my hoendervleis laat kry het,” het ’n vrou na die vertoning opgemerk.
Onder die aanwesiges was ’n trotse Stefanus Marnewick van Dysselsdorp by wie Human sy eerste klavierlesse ontvang het, asook ’n aantal musiekliefhebbers wat spesiaal vanaf George gereis het.
Dinsdagaand se konsert is aangebied deur die Oudtshoorn Kunstevriende wat sowat twee jaar gelede begin het om maandeliks musiekkonserte aan te bied.
(Deur Garnett Wicomb)