Deur Garnett Wicomb
’N 63-JARIGE man wat sy seun drie keer met ’n byl gekap het, het in die Oudtshoorn Streekhof op ’n klagte van moord verskyn. Ben Murphy van Bongolethu het sy seun, Vaaltyn May (40), op 28 Februarie 2015 met ’n byl gekap nadat hy kwaad geword het omdat die seun “weer by sy pa se woning moeilikheid kom maak het”.
Murphy pleit skuldig op ’n klagte van strafbare manslag omdat hy nie bedoel het om moord te pleeg nie. Hy erken dat hy die perke van noodweer oorskry en nalatig opgetree het.
Hy erken dat hoewel hy onder die invloed van alkohol was, hy geweet het wat hy doen. Hy staan ook tereg op ’n klagte van aanranding om ernstig te beseer omdat hy Leah Swartbooi ook met die byl raakgekap het.
Streeklanddros Mark van Wyngardt het die saak vir verdere verhoor tot 6 Junie uitgestel.