
Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het onlangs uitstekend gevaar tydens die Eden Sportraad se jaarlikse sporttoekenningsaand, waar sowel die uitvoerende burgemeester, Johan Allers, sowel as sy media- en kommunikasiebeampte, Christo Vermaak, vereer is.
Die toekenningsgeleentheid het op Vrydagaand, 6 Februarie, in die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal in George plaasgevind. Allers en sy eggenoot, Ilse Allers, was onder die eregaste. Hy het erkenning en ’n toekenning ontvang vir sy bydrae tot sportbevordering in die Tuinroete. Die uitvoerende burgemeester is ook genooi om van die hoof- en spesiale toekennings tydens die aand te oorhandig.
Vermaak is as die Sport Visuele Joernalis van die Jaar aangewys. Hy sal op Saterdag, 28 Februarie, as finalis die Wes-Kaap-sportraad se provinsiale toekenningsgeleentheid bywoon.
Volgens die beoordelaars het Vermaak hom op besondere wyse as visuele joernalis onderskei deur sy toegewyde en unieke benadering tot sportbevordering en -ontwikkeling. Hulle het benadruk dat sy werk nie bloot sportgeleenthede dokumenteer nie, maar die stories agter die atlete en die sport self vertel.
“Deur tegnies vaardige fotografie en videografie vang hy bepalende oomblikke vas wat die emosie, dissipline, grasie, krag en deursettingsvermoë van sportmanne en -vroue weerspieël. Hierdie visuele verhale gee atlete ’n gevoel van trots en sigbaarheid, terwyl dit gehore in staat stel om op ’n betekenisvolle wyse met sport te verbind,” het die beoordelaars gesê.
Vermaak het gesê dat die prestasie onlosmaaklik verbind is aan die leiding, inspirasie en voorbeeld wat Allers as uit- voerende burgemeester stel. Volgens hom skep die burgemeester se onwrikbare verbintenis tot gemeenskapsdiens, sportontwikkeling en sporttoerisme ’n omgewing waar uitnemendheid aangemoedig en erken word.
“Sy passie vir sport en sy geloof in die krag van sport om gemeenskappe te bemagtig, motiveer my daagliks om sportverhale met integriteit, respek en trots te vertel,” het Vermaak gesê.