Dis ’n dogtertjie!

Een van die oulike lemurs met ’n pienk blom. Foto's met vergunning van Cango Wildlife Ranch.

’n Paartjie van Oudtshoorn, Rouan en Monique Engelbrecht het verlede Woensdag die geslag van hul bondeltjie vreugde wat op pad is, op ’n baie unieke wyse aangekondig.

Hulle het by Cango Wildlife Ranch (CWR) die hulp van hul lemurs ingespan, om ’n blou en pienk boks oop te maak. Met die trek van ’n lint het ’n klomp pienk hibiskusblomme uit die boks getuimel en so is die geslag as ’n dogtertjie bevestig.

“Hulle het in bietjie meer as ’n week met die idee vorendag gekom,” lui CWR se Facebook- inskrywing.
Rouan het die CWR-span bedank dat hulle die dag so spesiaal gemaak het. Hy het ook vir Dante, een van die lemurs wat die voorreg gehad het om die lint te trek, geprys, en genoem dat hy hom goed van sy taak gekwyt het.

Die Hoorn wens die paartjie saam met die vele kommentare op Facebook geluk met die nuwe pienkvoet wat eersdaags haar opwagting gaan maak.