’n Oud-weermaglid van Toekomsrus op Oudtshoorn wat sy 64-jarige ma aangerand het is verlede week in die streekhof gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf waarvan hy ten minste tien maande agter tralies sal moet deurbring.
Die 36-jarige Angeneilo Kammies het op 1 November 2024 sy bejaarde ma op die grond gegooi, geskop en geslaan.
Hy het skuldig gepleit en gesê hy was onder die invloed van alkohol en dwelms, en baie jammer daaroor.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê kinders wat hul hande vir hul ouers optel, moenie veel genade van die howe verwag nie. Die hof moet sy pligte op verantwoordelike wyse uitvoer en die regte boodskap uitstuur.
Kammies is ingevolge Artikel 276 (1) (i) tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis en ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (GARNETT WICOMB)
Oud-weermaglid tronk toe vir aanranding van sy ma
