Verswarende omstandighede vir 6 wat roof

Die saak teen ses jong verdagtes van Oudtshoorn wat ’n man van R20 beroof het, en tereg staan op ’n klagte van roof met verswarende omstandighede waarvoor die minimum voorgeskrewe vonnis tien jaar gevangenisstraf is, is in die distrikshof vir ’n streekhofbeslissing tot 13 Mei uitgestel.

Donovan Goliath (18), Jeswill Mars (21), Christa Louw (18), Johnackwill April (18), Wakaan du Preez en ’n 17-jarige jeugdige, het na bewering op Sondag 3 Julie 2022 vir Llewellyn Oktober (40) in Tommy de Villiersstraat, Bridgton, beroof.

Hulle het hom glo ook met messe gesteek en met klippe gegooi. Die staat voer aan dat hulle met gemeenskaplike doel opgetree het. Die saak is verlede jaar van die hofrol verwyder nadat die klaer by meer as een geleent-heid nie by die hof opgedaag het nie, maar is weer teruggeplaas.

Borgtog van R500 is aan Mars en Louw toegestaan terwyl hul medebeskuldigders op waar-skuwing vrygelaat is. (GARNETT WICOMB)