Oud-skoolhoof van Bergsig sterf op 73 jaar

Connie Stuurman en sy eggenoot Leonie. Foto verskaf

HY was nie iemand wat op die voorgrond wou wees nie, maar iemand op wie jy kon staatmaak en altyd bereid was om ’n helpende hand uit te reik.

So is die voormalige prinsipaal van Bergsig Pri­mêr, Cornelius Stuurman – bekend as mees­ter Connie – Saterdag in huldeblyke tydens sy be­- grafnisdiens in die Bridgton United Congregational Kerk op Oudtshoorn beskryf. Stuurman, wat op 24 No­vember sy 74ste verjaardag sou vier, is op 10 November na ’n lang siekbed oorlede.

Hy het sy onderwysopleiding aan die destydse Onderwyskollege Suid Kaapland (OKSK) ontvang en in 1972 by Bergsig begin skoolhou. In 1982 is hy tot departementshoof bevorder en twee jaar later tot adjunk-prinsipaal. Hy is in Januarie 1995 bevorder tot senior adjunk-prinsipaal en het na die uittrede van die skoolhoof, Japie Coetzee, tot sy uittrede in 1997 as prinsipaal waargeneem.

Coetzee het sy jarelange kollega beskryf as ’n man wat ’n onmisbare rol gespeel het in die onderwys in die algemeen en Bergsig in besonder. “Baie oud-leerders en kollegas sal Connie onthou as iemand wat beginselvas was, goeie leierskapeienskappe gehad het en altyd bereid was om ’n hel­pende hand uit te reik. Hy het nooit aan ge­sprekke wat op konflik sou uitloop, deelgeneem nie, maar was altyd beskikbaar vir oplossende gesprekke.”

Volgens Coetzee sou Stuurman ook altyd teenwoordig wees op tye en plekke waar en wanneer dit nodig was om ’n verskil te maak. Hy was ’n aandagtige luisteraar en altyd eerste om advies te gee.

As voorligtingonderwyser was hy baie gewild onder die leerlinge en daarom in ’n posisie waar leerders hom vertrou het en sensitiewe kwessies met hom bespreek het. Hy was vir baie hul “fa­vourite onnie”.

Volgens Coetzee was Stuurman ’n goeie atle­tiekafrigter en vir jare spanbestuurder van Bergsig se atletiekspanne.

“Dankie, Mr Connie, dat jy gehelp het om Bergsig die skool te maak waar dinge gebeur het. Jou arbeid hier op aarde is nou verby en gun ons jou die rus.”

Stuurman se drie kinders, Alroy, Connilee en Tesslynne, het in hul huldeblyke hul pa as ’n rolmodel beskryf en dat hulle hom geweldig sal mis. “My pa was ons held, rots en planmaker,” het sy seun, Alroy gesê.

Volgens sy oudste dogter, Connilee, was haar pa pynlik netjies. Soveel so dat hy met volstruisleerskoene en -lyfband in sy tuin gewerk het!

Sy eggenote, Leonie, met wie hy 46 jaar getroud was, skryf in haar begrafnisbrief dat hy sy gesin en vriende geleer het om nie jouself te onderskat of jou omstandighede te blameer vir dinge wat jy verkeerd doen nie. (Deur Garnett Wicomb)