DIE Groter Oudtshoorn het nou ’n eie asfaltaanleg wat die herstel van slaggate en die instandhouding van paaie in die munisipaliteit ’n groot hupstoot sal gee.
Dié aanleg sal ook groot kostebesparing vir die munisipaliteit meebring en asfalt vir herstelwerk vinniger kan verskaf wanneer en waar nodig.
Herstelwerk aan slaggate en strate waar pype gebars het, het luidens ’n persverklaring van die munisipaliteit reeds afgeskop in Jan van Riebeeckweg, by die Hoërskool Oudtshoorn, in Oudtshoorn-Noord/Noordeinde, Hillstraat, Birdstraat asook dele in Bridgton.
Die munisipaliteit beskik tans oor een Bomac-roller wat grond kan kompakteer, maar beoog om ’n tweede te koop sodra goedkeuring van die raad verkry is, terwyl ’n derde een herstel sal word.
Luidens die persverklaring behoort die agterstand in die herstel van paaie teen einde Junie 2023 ingehaal te wees.
Herstelwerk sal roterend op Oudtshoorn, Dysselsdorp en De Rust gedoen word. (Deur Liesel le Roux)
Nuwe asfaltaanleg: Nou kan slaggate en strate vinniger en goedkoper herstel word!
