DIE gemeenskap van Ladismith is verslae nadat nog ’n oud-skoolhoof van die dorp gesterf het. Dr Richard Fortuin, voorheen prinsipaal van Dankoord Primêr sowat 18 kilometer buite Ladismith, het verlede week sy stryd teen kanker verloor.
Fortuin was nie net in onderwyskringe bekend nie, maar ook ’n gerespekteerde SWD-skeidsregter.
’n Oud-kollega van Fortuin, Dorothy Prins van Zoar, onthou Fortuin veral vir sy kennis en afrigting van koormusiek.
Hy het ook in die laaste tyd by die stryd om erkenning van die Khoisan betrokke geraak en het die titel van stamhoof gedra.
Danie van Wyk, ’n bekende in onderwyskringe, onthou Fortuin as ’n stil, innemende mens, wat op ’n gevorderde ouderdom van 69 jaar sy doktorsgraad (PhD) verwerf het. Dit het hom die trots van sy gemeenskap gemaak.
Sy bekendheid in die musiekwêreld word onderstreep deur ds Andrè Boezak, bekende dominee van Op die Stoep-faam, met die woorde: “Richard se diep bas in kore sal ek nooit vergeet nie. Dit was net te uniek.”
Fortuin se dogter, Elmi, het met sy afsterwe die volgende op Facebook geskryf: “Rus in vrede, Daddy. Dankie vir die pa wat Daddy nie net vir my, Adri en Rudi was nie, maar ook vir die hele gemeenskap se kinders. Ons sal Daddy mis.”
Fortuin se begrafnis word vir die naweek beplan. (Deur Deon Meyer)
Ladismith verloor nog ’n beminde
oud-skoolhoof
Dr Richard Fortuin, oud-skoolhoof en Khoisan- stamhoof. Foto verskaf