Leerders van die Gansbaai Akademie het ‘n erewag vir hul geliefde onderwyseres voor die kerk en in die begraafplaas gevorm. Foto: Garnett Wicomb Inlasfoto onder: Oud-dosent Julia Wilson. Foto verskaf

Deur Garnett Wicomb
’N GROOT aantal oud-studente van die destydse Onderwyskollege Suid Kaapland (OKSK) het Saterdag die begrafnisdiens van ’n oud-dosent wat in ’n motorongeluk gesterf het, in die Bridgton VGK op Oudtshoorn bygewoon.
Julia Wilson (69), ’n nooi Le Roux van Oudtshoorn, het vroeër vandeesmaand gesterf toe sy en haar man, Tommy, wat albei op Gansbaai onderwys gegee het, in ’n botsing tussen Villiersdorp en Worcester betrokke was.
Haar man is eers later in die hospitaal van haar dood meegedeel.
Wilson het ná haar troue in 1985 na Worcester verhuis. Sy is Saterdag in huldeblyke as ’n omgee-mens sonder weerga beskryf.
Dr Brian Wilson het haar as ’n vrou met ’n sprankelende persoonlikheid beskryf en iemand wat ’n passie vir die onderwys gehad en vir haar studente geleef het. Sy was ’n vrou met uitstaande kwaliteite wat respek afgedwing het.
Een van haar oud-studente het haar beskryf as iemand wat geweet het hoe om sy medemens lief te hê. Die impak wat sy op haar studente gemaak het, was onbeskryflik.
Ds Murray van die Worcester Calvyn Protestante Kerk waar Wilson saam met haar man in die kerkraad gedien het, het Wilson vir haar gemeenskapswerk geloof.
Die kerkkore van die Weyers Memorial en Oudtshoorn UCCSA kerke asook ’n koor van oud-OKSK-oudstudente het tydens die diens opgetree.
Wilson was die dogter van wyle ds Phillip en Rachel le Roux van Oudtshoorn.
Sy het aan die Hoërskool Môrester gematrikuleer en haar aan die Battswood Opleidingskollege as onderwyseres bekwaam. Sy het haar onderwysloopbaan by die Laerskool Protea op Oudtshoorn begin.
Sy was lank LO-dosent aan OKSK en ná haar troue ook in dieselfde pos by die Söhnge-opleidingskollege op Worcester. Daarna was sy 15 jaar lank bestuurder van African Bank op Worcester en vanaf 2014 verbonde aan die Gansbaai Akademie waar haar man die skoolhoof is.
Wilson was ’n kranige netbalspeler wat die SA Kolleges sowel as SA netbalspanne gehaal het. Sy was later ook ’n netbalafrigter van formaat.
Sy word oorleef deur haar eggenoot en ’n seun, Woodrow, wat ’n prokureur is, asook ’n suster, Caroline Jansen.