Gevaarlike klowe by Nissenville en Calitzdorp skoongemaak

Die toegewyde skoonmaakspan. Foto: Deon Meyer

Deur Deon Meyer
’n Inisiatief tussen die Ladismith Kaas en die Kannaland Kleinsakeforum skep nie net werk nie, maar roei ook die wegkruipplekke van diewe uit.

Die kloof tussen Nissenville en Calitzdorp is al gereeld deur kwaaddoeners aan die brand gesteek met die rook wat ’n gesondheidsgevaar vir inwo­ners naby die klowe inhou.

David Opperman van die Kleinsakeforum wat die leiding neem, verduidelik:
“Vir jare het selfs skoolkinders hier in die klowe klasse kom bank.

“Mense het ook hier dwelms gebruik. Gelukkig het Christie Tolken, grootbaas van Ladismith Kaas, ons inisiatief finansieël ondersteun.”

Dertig mense gaan oor ’n tydperk van ’n maand of dalk langer werk kry en sodoende brood vir hul gesinne op die tafel sit.

’n Ouer wat gevra het om net as Mary geïdentifiseer te word, sê: “Ek woon al jare lank hier in die omgewing van die kloof en sien daagliks hoe daar dagga gerook word.

“Ek sien hoe kinders met skoolrugsakke tussen die riete wegkruip. Ek is verheug oor die projek. Ons mense het nou die dag gepraat oor hoe gevaarlik dit veral saans en oor naweke was.”