Ontslagaansoek geweier

Die saak teen ’n 55-jarige man van Oudtshoorn wat van verkragting van ’n 21-jarige man aangekla word, is verlede week in die Oudtshoorn streekhof vir argumente tot 17 Julie uitgestel nadat die hof ’n Art 174 ontslagaansoek van die verdediging van die hand gewys het.

Theunis Botha word daarvan aangekla dat hy glo die seksuele dade die aand van 12 Januarie 2023 in die omgewing van Buffelsdrift met die klaer gepleeg het.

Hy sê in ’n verklaring wat die ondersoekbeampte, Ao Anton Kock, aan die hof voorgelees het, dat hy nie kan onthou dat hy die beweerde dade met die klaer gepleeg het nie, omdat hy onder die invloed van alkohol was.

Sy regsverteenwoordiger, adv Jerome van der Schyff, het die hof versoek om die saak van die hofrol te verwyder omdat die staat ’n swak saak teen die beskuldigde het waarop hy nie skuldig bevind kan word nie.

Die aansoek is egter deur die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, teengestaan en dit is deur streeklanddros Daniel Boks van die hand gewys. (Deur Garnett Wicomb)