Twee strate op Oudtshoorn wat sinoniem met toerisme in die grootvoëlparadys geword het oor die jare heen is Baron van Reedestraat, en Langenhovenweg. Baron van Reedestraat – ook bekend as Oudtshoorn se “goue myl” – neem jou uit op die Kango Grotte-pad, met besienswaardighede soos die beeldskone Schoemanshoek, en natuurlik die internasionaal-bekende Kango Grotte.
Dit lei jou ook na die klein dorpie van Prins Albert. Langenhovenweg is die begin van jou reis na George, en verder as dit Wildernis, Sedgefield, Knysna en Plettenbergbaai – deel van een van die mooiste kuslyne in Suid-Afrika. Dit is ook waar die Outeniqua berge ver oor die horison uitstrek.
Maar wie was Baron van Reede, en hoekom is Langenhoven so verbonde aan Oudtshoorn? Baron van Reedestraat was in Oudtshoorn se vroeër jare bekend as Queenstraat.
Volgens Wikipedia was Baron Pieter van Reede van Oudtshoorn (8 Julie 1714 – 23 Januarie 1773) – sy volle naam, let wel – aangewys as ’n senior amptenaar en goewerneur in die Nederlandse Kaapkolonie. Hy is in 1772 as goewerneur van die Kaapkolonie aangestel om die afgestorwe goewerneur Ryk Tulbagh op te volg, maar sterf ter see op pad na die Kaapkolonie om sy pos te aanvaar.
Oudtshoorn is na hom vernoem en hy is die stamvader van die gesin van R(h)eede van Oudtshoorn in Suid-Afrika. Die wapen van die munisipaliteit is gebaseer op die wapen van dié Nederlandse familie.
Meeste Oudtshoorniete weet wie Cornelis Jacobus Langenhoven was. Sy huis, Arbeids-genot, staan immers in Oudtshoorn se Jan van Riebeeckweg. Hy was ook bekend as Sagmoedige Neelsie of Kerneels.
Volgens Wikipedia was CJ Langenhoven (13 Augustus 1873 – 15 Julie 1932) ’n Suid-Afrikaanse digter wat ’n groot rol gespeel het in die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde en kultuurge-skiedenis.
Hy was een van die destydse jong taal se voorste promotors.
Teen 1914 word hy parlementslid (eers as lid van die Volksraad, en later as Senator), waar hy die stryd om Afrikaans amptelik te erken as taal tot die volgende vlak geneem het.
Hy was ook ’n stigterslid van die Afri-kaanse koerant Die Burger, en ’n Suid-Afrikaanse Vry-messelaar.
Langenhoven is alombekend as die skrywer van Suid-Afrika se nasionale volkslied, Die Stem, wat in 1918 geskryf is.
Wie was hulle? Baron van Reede en Langenhoven?
