Die Môreson-gemeente van die VGK in Toekomsrus het Sondag afskeid geneem van ds. Christopher Maarman en sy vrou, Paulina. Maarman, ’n boorling van Bredasdorp, tree af nadat hy die gemeente 23 jaar, een maand en twee weke lank bedien het.
In sy afskeidspreek, gegrond op Johannes 1:29–34, het hy die gemeente en die breër gemeenskap bedank vir die jare waarin hy hulle kon dien.
“Maak julle los van Chris Maarman. Hy is op pad, maar die Lam van God is steeds hier,” het hy aan die volgepakte kerk gesê. “Oudtshoorn is waar my mense is. Ons het saam die stryd gevoer in moeilike tye.”
Elizabeth Ayford het die egpaar namens die gemeente vir hul leiding bedank. Ds. Arne Leuvennink, die Maarman-gesin se voormalige predikant in Bredasdorp, het vertel dat Maarman van jongs af by die kerk betrokke was.
Hy het hom as onderwyser bekwaam en ná sy pa se dood besluit om predikant te word. Leuvennink het hom as ’n uitstekende organiseerder en bekwame leier beskryf.
Donna Le Roux van Korrektiewe Dienste het Maarman geloof vir sy rol in ’n program wat slagoffers en oortreders bymekaar gebring het. Ds. Donald Moos van die Weyers Memorial UCC het ’n dankboodskap van vader Dennis Ongansie, voorsitter van die Immanual Leraarskring, voorgelees.
Ds. Petrus Lottering het Maarman namens die Ring van Zoar bedank en hom ’n genotvolle aftrede toegewens. (GARNETT WICOMB)
Môreson-gemeente groet leraarspaar ná 23 jaar
Ds. Christopher Maarman en sy vrou, Paulina, saam met hul seun, Brenton, en sy vrou, Bronwyn. Foto: Garnett Wicomb
Be the first to comment on "Môreson-gemeente groet leraarspaar ná 23 jaar"