Die verhoor van die drie verdagtes wat van moord op Jacques Liebenberg (24) aangekla word, wat Dinsdag in die Oudtshoorn streekhof sou begin, moes weer uitgestel word omdat die regsverteenwoordiger van een van die verdagtes nie by die hof kon wees nie.
Herman Redelinghuys (23) word saam met Abraham Swartbooi en Adrian Isaacs daarvan aangekla dat hulle op 11 Januarie vanjaar vir Liebenberg, Redelinghuys se stiefbroer, vermoor het.
Liebenberg se liggaam is op 12 Januarie vanjaar met veelvuldige steekwonde deur polisiebeamptes van Dysselsdorp langs die Kammanassie-pad gevind waarna drie verdagtes die volgende dag in hegtenis geneem is.
Borgtog is aan Redelinghuys geweier nadat hy die hof meegedeel het dat hy onskuldig sal pleit. Terwyl sy medebeskuldigdes besluit het om nie om borgtog aansoek te doen nie.
Die oorledene is volgens die ondersoekbeampte met ’n hamer geslaan en met ’n mes in die bors en nek gesteek.
Die staat voer aan dat dit ’n be-plande moord was en Redelinghuys vir Swartbooi en Isaacs, elk R750 belowe het. Streeklanddros Ntsoki Moni het die saak op versoek van die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, tot 16 November uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)
Moordsaak teen stiefbroer uitgestel
