Ek vra altyd vir myself, wat maak die Karoo so besonder?
Ek kan dit nie vir iemand anders vra nie want die meeste mense verstaan dit nie.
Ek is gebore in die Klein Karoo, hier groot geword, getrou en gaan bly in die Groot Karoo, en my kinders is daar gebore.
Dit was wonderlik toe ons moes George toe trek. Om van Beaufort-Wes af na die groot dorp te trek was iets om na uit te sien en dit nogal naby die see.
Die skuif was toe nie so wonderlik nie want die kinders het siek gebly en die verandering van skool was vir hulle baie sleg.
Maar nege maande later tref die geluk ons en my man word oorgeplaas na Oudtshoorn, hier na my grootword plek waar die son warm skyn en die ryp kraak onder jou voete in die winter. Dit het my sensitief gemaak vir die omgewing.
Ek het altyd en kyk nog steeds anders na dinge soos ek ouer word, soos veldblomme na donderweer, die reuk van die ronde geel blommetjies van doringbome langs die plaasdam en die kwaak van die paddas.
Tog hoor mens so baie liedjies en gedigte wat skrywers maak en sing oor die Karoo.
Skilders kom bly hier want waar anders kan jy sonsopkomste en -ondergange so beleef en vir ewig op doek inkleur? (Deur Mona Brittnell)