DIE saak teen ’n pa en seun van Oudtshoorn wat van moord aangekla word, is verlede Donderdag as gevolg van te min hoftyd weens beurtkrag vir verhoor tot 4 Mei uitgestel.
Die 64-jarige Koos Stuurman, met 28 vorige veroordelings, staan saam met sy seun, Stilero Roman (20), tereg op ’n aanklag van moord op John-Lee Johnson (23).
Johnson is op 30 Oktober 2021 in ’n winkel in Dassieweg, Bridgton, deur Roman met ’n mes in die nek gesteek nadat sy pa na bewering vir hom die opdrag gegee het.
Die opdrag dat hy die oorledene moet gaan doodsteek het na bewering gevolg nadat hulle die vorige aand in ’n stryery betrokke was.
Stuurman het met sy borgaansoek aangevoer dat hy ’n nuwe blaadjie omgeslaan het en “vorentoe kyk”.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni.
Stuurman is in aanhouding terwyl sy seun op waarskuwing vrygelaat is. (Deur Garnett Wicomb)