Kinders leer van boelies, veiligheid

Foto bo: Van links is ao Leila Claassen saam met Winnie die teddybeer, pastoor Deon Schutte, ao Jacinda April en ao Jan Combrinck. Foto verskaf Foto onder: Skenkings van Gift of the Givers is ook na die skool gebring Foto verskaf

’n VERKEERSLIG en ’n teddiebeer genaamd Winnie is verlede Donderdag 16 Februarie ingespan om die leerders van De Jagers Pre-Primêr in die Buffelsdrift area buite Oudtshoorn, te leer van boeliegedrag en kinderveiligheid.

Die bewusmakingsveldtog is deur die Oudtshoorn Polisie aangebied.

“Die rooi lig van die verkeerslig is die rooi area waaraan niemand mag raak nie. As enige persoon aan hierdie deel van jou liggaam raak moet jy dadelik om hulp roep,” het adjudant-offisier Jacinda April aan die kinders verduidelik.

Adjudant-offisier Leila Claassen het oor boeliegedrag met die kinders gepraat. “Kinders wat ander kinders boelie is een van ons grootste probleme,” het sy gesê.

Claassen het aan die kinders verduidelik hoe hulle ’n boelie kan uitken. Sy het ook gesê dat kinders wat geboelie word dit aan hul onderwysers of enige ander volwassene moet rapporteer sodat hulle teen die boelie beskerm kan word.

Geskenke is deur die nie-winsgewende organisasie Gift of the Givers geskenk en aan die kinders uitgedeel. “Baie dankie aan die organisasie wat betrokke geraak het, ons waardeer dit ongelooflik baie,” het adjudant-offisier Jan Combrink aan Die Hoorn gesê. (Deur Angelique Erasmus)