Bo: Die enigste bord in die Grootkop-gebied wat tans aandui wat mense in dié natuurgebied mag doen en wat nie. Die munisipaliteit het aangedui dat hulle nou nog borde gaan opsit.
Onder: Willie Oosthuizen kyk dat daar kos is vir die wilde diere wat swaarkry tydens die huidige droogte.
Foto’s: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
PARTYKEER voel dit vir hom of hy die enigste een is wat omgee oor die wilde diere wat in die Grootkopomgewing aan die noordwestekant van Oudtshoorn “gejag” word, sê Willie Oosthuizen, ’n inwoner van Johnsonsingel in Oudtshoorn-Noord.
Oosthuizen sê hy sien dikwels saans laat voertuie wat die veld na Grootkop inry en het ook al gehoor hoe mense in die diere vasry . En hoewel mense slegs met honde aan leibande in dié stuk veld mag stap, word dié reël gereeld verontagsaam en kan hy baie verhale vertel oor duikers, steenbokkies, hase en skilpaaie wat deur honde aangeval en doodgebyt word.
“Ek onthou hoe ons een aand hier in die sirkel drie en twintig hase getel het. Hulle het daarna tot drie uitgedun en nou is daar nog net een.”
Hy skryf ’n beroerte-aanval wat hy verlede jaar gekry het, daaraan toe dat hy die dag woedend geword het oor dié situasie.
Die groot stuk veld is ongelukkig maklik toeganklik en daar is tans slegs een kennisgewingbord wat toon wat toelaatbaar in die stuk veld is en wat nie.
Die ander borde wat daar was, is volgens Teresa van der Westhuizen van CapeNature oor die jare gevandaliseer en vernietig.
Van der Westhuizen sê hoewel hulle bewus daarvan is dat daar klagtes is oor dié stuk veld kon hulle nog nooit iemand daar vastrek nie.
Die hekke in toegangspaaie na die gebied word ook nie meer deur diegene verantwoordelik daarvoor toegemaak nie.
Ao Fasie de Kock van die Oudtshoorn Veediefstaleenheid – volgens Oosthuizen die enigste persoon wat reageer as hy kom bel – sê dit is noodsaaklik dat toegang na die gebied beter beheer word deur hekke toe te maak en duidelike borde op te sit. Dit sal dit ook makliker maak vir wetstoepassingspersoneel om daar op te tree.
“Daar is regtig geen toegangsbeheer nie. Nou die aand net na nege is drie bakkies daar op teen die kop,” vertel Oosthuizen.
Paul Muller, senior bestuurder: strate en stormwater by die munisipaliteit, het onmiddellik gereageer nadat Die Hoorn die aangeleentheid onder sy aandag gebring het.
Muller het aangedui dat daar ’n opname gedoen sal word oor alle vermiste/gesteelde/nodige kennisgewingborde, wat benodig word vir die Grootkop-omgewing.
Hy het gesê daar sal spoedig in die nuwe boekjaar hieraan aandag gegee word.
Intussen sê Oosthuizen dat inwoners nie hul oë sal glo as hulle sien watter rommel hy al in die veld opgetel het in ’n poging om die gebied skoon te hou nie.
“Ek dink hulle kan die koppie maar panty hill doop. Jy sal nie glo wat ek alles met my koletang daar opgetel het toe ek laas daar skoongemaak het nie.
“Hulle sal iets hier moet doen of anders bly daar niks vir ons nageslag oor nie.”