Man wat driejarige met sambok slaan skuldig aan aanranding

’N MAN van Oudtshoorn wat die driejarige kind van die vrou saam met wie hy woon met ’n sambok geslaan het, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind.

Francois Keyzer (28) het erken hy het die kind met die sambok op sy sitvlak geslaan nadat die kind ’n bord met kos uit sy ma se hande geklap het.

Die kind se ma, Nicolette Rondganger, het getuig Keyzer help om haar twee kinders groot te maak en gee hulle pak wanneer nodig. Volgens haar was dit ’n klein sambok wat die beskuldigde eintlik net gebruik het om hulle mee skrik te maak.

Streeklanddros Sylvia Mandla het be­vind Keyzer het die kind met erge geweld geslaan en gesê dat dit nie die manier is om ’n driejarige te tug nie. “ ’n Sambok is nie ’n wettige wapen om ’n mee pak te gee nie.”

Volgens haar het die tengergeboude kind winterklere aangehad, maar was die houe op sy lyf ten spyte daarvan steeds sigbaar.

Die kind was volgens die landdros honger en die beskuldigde het onregverdig opgetree. “Kinders reageer verskillend en die vraag is waarom die beskuldigde so opgetree het,” het sy gesê.

Volgens Keyzer se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, bly die beskuldigde en die familie steeds saam en is hy die enigste broodwinner.

Vonnisverrigtinge is vir korrektiewe en proefbeampteverslae tot 28 Junie uitgestel. Volgens die staatsaanklaer, Brandon Smith, het Keyzer nie enige vorige veroordelings nie. (Deur Garnett Wicomb)