Helikopterveiligheid in die kollig!

Nooddiensrolspelers by die AMS nood- dienshelikopter tydens ’n gesimuleerde noodgeval verlede week op Oudtshoorn. Foto: Stefan Skapie Goosen

Nooddiensrolspelers in die Oudtshoorn-distrik verlede Donderdag by die nooddienshelikopter van Air Mercy Service (AMS) tydens ’n gesimuleerde noodgeval op die Volmoedpad buite Oudtshoorn. Die AMS-helikopter se reddingspan tesame met verkeersdienste, paramedici, die brandweerdiens en forensiese dienste het só ’n situasie dié dag op die Volmoedpad buite Oudtshoorn gesimuleer waar veral die veiligheid met die opstyg en landing van so ’n helikopter bespreek en geoefen is. Volgens Stephan Rossouw, vlieënier van dié helikopter, word sulke oefendae gehou om onder meer juis nooddienswerkers se geheues te verfris rondom prosedures en veiligheid rakende gevalle waar die helikopter benodig word. Foto: Stefan Skapie Goosen

JY bevind jouself met ernstige beserings na ’n motorbotsing, of jy word vasgekeer deur omstandighede of beserings buite jou beheer op ’n berg of staproete, of jy moet so gou as moontlik van een hospitaal na ’n ander oorgeplaas word. As een hiervan gebeur, is dit die Air Mercy Ser­vice-helikopter (AMS) wat tot jou redding sal kom – ’n lewensbelangrike diens van die Wes-Kaapse Departement van Ge­sond­heid.

Die erns daarvan dat nooddiensperso­neel vinnig en veilig moet kan werk wanneer ’n noodgeval of reddingspoging plaasvind en ’n mediese helikopter ontbied moet word, is Donderdag (26 Mei) op Oudtshoorn be­klemtoon.

Die AMS-helikopter se reddingspan tesame met verkeersdienste, pa­ramedici, die brand-weerdiens en forensiese dienste het só ’n situasie dié dag op die Volmoedpad buite Oudts­hoorn gesimuleer.

Veral veiligheidspekte met die opstyg en landing van so ’n helikopter is bespreek en geoefen.

Stephan Rossouw, vlieënier van dié helikopter, het nooddienswerkers voor die oefening in detail deur die prosesse geneem wat gevolg moet word wanneer ’n helikopter op ’n toneel verwag word. Waar hulle moet staan en hoe ver, waar die landingsone moet wees, hoe met die vlieënier gekommunikeer moet word, en hoe die helikopter benader moet word was van die aspekte waarop Rossouw gefokus het.

Rossouw het ook enkele ander aspekte uitgelig waarop nooddienswerkers bedag moet wees, soos hoe om te help om ’n pasiënt in en uit die helikopter te laai. Hy het ook na verskeie veilig­heidsaspekte verwys wat nooddienswer­kers in gedagte moet hou ingeval die he­likopter sou verongeluk: Hoe om die helikopterdeure oop te kry, hoe om die vlieënier en sy span veilig te verwyder, hoe die sitplekgordels werk, waar die brand­stoftenk, hoofskakelaar en brandblusser sit, was maar ’n deel van die voorlegging.

Almal teenwoordig was dit eens dat die simulasie van kardinale belang was vir samewerking tussen die verskillende departemente. (Deur Stefan Skapie Goosen)